'n Nuwe Begin
 

Een van die seëninge van die vier seisoene is dat hulle vir ons ‘n nuwe begin gee. Winter slaag daarin om effektief van die vorige seisoen se groei ontslae te raak en die lente is ‘n nuwe begin met nuwe blare, nuwe plante en ook in die diereryk, nuwe geboortes. Die verbygaan van die seisoene help ook om die verloop van tyd aan te merk, die verbygaan van die oue en die begin van die nuwe.

Ons (Gregoriaanse) kalender volg nie die Joodse kalender nie en die Bybel maak geen melding daarvan dat 1 Januarie enigsins spesiaal is nie. Tog is dit ‘n suiwer Bybelse beginsel om dae en jare af te tel en ‘n nuwe jaar aan te teken.

·        Toe Noag 600 jaar oud was, het God die wêreld met ‘n vloed vernietig. Maar “op die eerste dag van die eerste maand van die ses honderd en eerste jaar van Noag was die water op die aarde heeltemal weggedroog” (Gen 8:13). Dit was die eerste dag van ‘n nuwe jaar en die Here het aan die mensdom ‘n nuwe begin gegee. Die oue is doodgemaak, vernietig en skoongewas en ‘n vernuwe aarde het die plek van die oue ingeneem. Selfs die bose mense is vernietig en God het aan die mensdom ‘n nuwe begin gegee deur die regverdige Noag en sy afstammelinge.

So aan die einde van die ou jaar en die begin van die nuwe, het ons ook weereens die geleentheid om ‘n nuwe begin te maak. Dit is natuurlik so dat die Here vir ons dwarsdeur die jaar hierdie geleentheid gee, maar dit is net asof die mens meer gewillig is om ‘n nuwe begin te oorweeg gedurende hierdie tyd van die jaar. God se wonderlike genade roep ons weereens daartoe om afstand te doen van ons mislukkings, teleurstellings en ongehoorsaamheid en weer saam met Hom voor te begin. Hiskia, een van die min goeie konings wat Juda gehad het, het op die eerste dag van sy koningskap, sy heerskappy begin met ‘n proses van geestelike hervorming. Hy het dit nie uitgestel totdat hy ander staatsake uitgesorteer het nie. Hy het dadelik daarmee begin. Net soos Hiskia, is dit miskien tyd dat jy jou tempel skoonmaak en aanbidding, lofprysing, God se Woord en heiligheid in jou lewe herstel. Maar jy moet vandag begin. Jy mag dalk nooit begin as jy dit uitstel nie.

Somtyds wil ons oor begin maar ons weet nie waar om te begin nie. Begin waar Hiskia begin het – deur die deure van die tempel oop te maak en dit te herstel. Hiermee bedoel ons die oopmaak van jou hart vir die lig van God se Gees en Sy Woord. Niks kan gebeur vir solank jou hart en gedagtes toe en geslote bly nie. Soos ons egter onsself oopstel vir die Here, sal Hy die proses van reiniging en herstel begin. Die binnekant van die tempel was in ‘n verskriklike toestand en het baie werk nodig gehad. Dit het egter nie vir Hiskia gekeer om die deure oop te maak en met opruimingswerk te begin nie.

Ek glo nie dat die Here van jou verwag om in een dag jou geestelike lewe te hervorm nie. Dit het selfs vir Hiskia lank gevat om alles uit te sorteer. Maar dit moet begin by die oopmaak van die deure en dit moet vandag gebeur: “Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie” (Heb. 4:7). Hiskia het baie ander dinge gehad wat sy aandag nodig gehad het, maar hy het besef dat niks meer belangrik is as om die volk se verhouding met God reg te stel nie. Ons mag dalk baie dinge hê wat gedurende hierdie jaar ons aandag vereis, maar daar is niks so belangrik as om ons verhouding met God te herstel nie. As ons dit kan regkry, dan sal alles anders in plek val. As ons daarin misluk, dan sal die res van die jaar ook misluk.

Ag, hoe wonderlik die genade van God wat aan ons die geleentheid bied om weer en weer oor te begin. Dit maak nie saak hoeveel keer in die verlede ons gesondig of misluk het nie, Sy bloed kan ons was en ons weereens in God se teenwoordigheid herstel. Hy is daartoe in staat om laas jaar se mislukkings in die see van vergetelheid te stort en Hy is in staat en gewillig, om aan ons ‘n splinternuwe bladsy te gee sonder enige voorwaardes, blaam of skuldgevoel.

Maar as ons dink dat ons hierdie jaar gaan aanvat sonder om dadelik iets omtrent ons verhouding met Hom te doen, omdat ons dink dat ons dit later sal bybring, kan ons maar weet dat ons dit dan nooit sal doen nie. Voordat ons dit besef is 2008 verby en is nog ‘n jaar vermors. Dit mag ook wees dat Jesus in hierdie jaar sal kom – alle tekens dui daarop dat Hy in hierdie jaar kan kom. Daarom mag daar dalk nie nog ‘n begin van die jaar vir ons wees waar ons ‘n nuwe begin kan maak nie.

Laat ons onsself dus nou voorneem om hierdie die beste jaar van ons lewens te maak. ‘n Jaar gevul met die opwinding, vreugde en vervulling wat net kom as ons binne Sy volmaakte Wil is. Maar jy moet begin deur die deure van jou hart oop te maak sodat die lig na binne kan skyn. Maak daardie nuwe begin asseblief nou dadelik.